Ek is al heelmiddag lus vir pizza.

Beste opsie naby my is Panarotti's. Niks gourmet nie. Maar ons almal se pizza-tande is gesny op brood-deeg en vuurwarm pynappel blokkies. No judgement here.

Ek klim in die kar.

Bonus! Eet soveel soos wat jy kan-aand. Skyf vir skyf. Ek soek 'n tafel met 'n kragprop; my plan is om te werk en te skryf en ja, te eet.

Die gesin langs my is al paar skywe voor. Pa, ma, 2 ouer broers, 1 meisie/geliefde en 'n kleinboet.

Ek sit 20 minute voor ek my eerste stuk kan kry. Die kelner stop elke keer eers by hulle. En wel, hulle vat elkeen elke keer 'n stuk van watookal op die bord is. Daarna is die bord elke keer leeg.

Dit gee my tyd om hulle dop te hou.

Pappa is tjoepstil, sit op die punt, pt-broek knap en kordaat. Sy twee sandale lê uitgeskop onder die tafel.

Mams sit in die middel en dra eintlik die broek. Sy't 'n netbalbokstert en 'n string perels aan. Bypassende oorbelle. Hierdie is beslis 'n date-night. Sy skep een as manlief traag is om die leiding te neem.

Die twee ouer broers sit weerskante van die een se geliefde. Hulle praat nie veel nie. Die arme dogter is vasgedruk en het beperkte vlerk-aksie; sy eet haar skyf so blokkie vir blokkie. As sy wil introu sal sy moet werk aan haar tegniek.

Kleinboet sit langs Mams. Hy is in die middel van 'n puberteit wat net beskryf kan word as wispelturig. Hy praat sy ma kort-kort dood in 'n stem wat wissel tussen Mimi en Juanita. Hy lag vir elkeen van sy eie opmerkings.

Ek begin verstaan dat almal nie 'n deelname-medalje moet kry nie.

Ek sien die kelner stap nader, maak oogkontak en wys sy moet my eerste help. Ek vat my eerste skyf. Dis koolhidrate, sous en 'n onherkenbare weergawe van 'n Spaanse wors. Fantasties. Mis ek nou 1997.

Sy dra om na my bure. Pa se kaalvoet tik van opwinding; geliefde skuif rond en vergeet vir 'n oomblik watter broer nou weer hare is; almal vat 'n stuk behalwe Mams en Kleinboet. Daar is net een stuk oor.

Kleinboet reik uit; Mams reik uit.
Hy is 'n kortkop voor.
En net toe hy kontak maak met die plank slaan sy hom onder die tafel.
Dit kon bobeen wees.
Dit kon dy wees.

Maar die klank wat uit sy mond ontsnap is pure Bee Gees. Niemand blik of bloos nie. Behalwe ek.

Niemand mors met Mams se Barbeque Chorizo nie.

Paps sê niks, hy weet.

comment (1)

Leave me comment