Ek wil vandag 'n lekker stuk sjokolade-koek eet.

Een met regte botter, regte eiers en regte meel in. Ja, ook regte suiker. As mens oortree moet jy behoorlik oortree.

Dit moet 'n behoorlike skyf wees. Iets tussen 'n 1/8 en 'n 1/6 van die koek. Nie daai flenters wat jy as boekmerk kan gebruik nie. Of kan opeet sonder om een keer te kou nie.

Die koek kan versiering ophê. Maar moet asseblief nie vervuil wees van sjokolade-skerwe- en balle nie. Dis 'n koek, nie 'n Mej Wêreld-kroon nie.

Ek wil kan inbyt. Herhaaldelik. Nie twee happies en voortstoom op herinneringe nie. En dit wat ek wil byt moet meegee, nie verkrummel nie.

Gaan maar ook lig op die kakoa-poeier wat op die bord gesif word; dit proe na niks en is droog op die tong. Gooi dit liewer in die koek by die mengslag.

Hou ook liefs verby met die puntenerige spuitsak, fudge, meringue, mousse en neute. 'n Goeie beslag doen self die praatwerk.

Moet asseblief nie die lae aanmekaarsit met konfyt nie. Ek weet hy plak dan soos wondergom. Maar aarbeikonfyt bly aarbeikonfyt en hierdie is nie 'n eerstepouse-toebroodjie nie. Kook ietsie op die stoof en laat 'n kind dit wat oorbly uitlek met sy vinger.

Ek weet ek het bo gevra vir regte suiker. Maar moet dit nie só soet maak dat ek tameletjie van my verhemelte moet afkrap nie. Die perfekte koek is juis nie té soet nie. Weerhouding is 'n kuns.

En dan, hou maar die skuimbol "room" vir 'n kleuter se melkskommel. Dis tog net gekleurde wind wat verwater by die sekonde. Weer eens, genoeg botter in die koek voorkom sulke ingrypings.

So my behoefte is eenvoudig: 'n doodeenvoudige lekker stuk koek sonder enige Franse ambisies of Italiaanse illusies of Amerikaanse bravade.

Ek wil sê 'n koek soos my ma s'n. Maar dit los dalk 'n bitter nasmaak.

comments (2)

Leave me comment