Met die onlangse #FeesMustFall-optogte het dié siening kort-kort opgeduik: Die ware revolusie moet plaasvind in primêre en sekondêre onderwys.

Ons kinders moet beter spel, lees, optel en skryf. Met daardie vaardighede word al die ander wetenskappe vir hulle oopgesluit.
Min kom egter daarby uit weens oorvol klasse, swak opgeleide onderwysers, ’n tekort aan hulpbronne en die afwesigheid van ’n leerkultuur.

Ek was bevoorreg om twee jaar in die onderwys deur te bring. Hier het ek gesien wat die gom is wat ons reeds verflenterde onderwysstelsel bymekaarhou: tannies.

Die oggend toe ek klaarmaak as onnie het ek na hulle verwys en hulle bedank. Vir die rol in my en soveel ander leerlinge se lewe. Sommige wou weet of hulle ’n tannie is. Dis gevaarlike terrein daai en ek het maar net geglimlag.

Met die matrieks wat weer aan die eksamen skryf is, sal ons Januarie vroeg weer wag op matriekuitslae en sal hierdie uitslae uitmekaargetrek word. Te min hiervan, te veel daarvan. Maar nêrens sal jy lees van die tannies wat ons skole laat werk nie.

Die rede hoekom ek daarop hamer is dat hierdie tannies jaarliks op strepe begin aftree. Jare se kennis en ervaring gaan net eenvoudig verlore. En al bied jong onderwysers ’n vars perspektief en nuwerwetse opleiding, weet ek min van hulle is gereed om die aflosstokkie by hierdie bekwame onnies oor te vat. Baie is nie bereid om die ekstra myl te stap soos hierdie tannies nie. Die meeste moet nog eers ervaring opdoen wat geen universiteit vir jou kan gee nie.

Hierdie tannies daag elke dag in hul klas op, is voorbereid, en hou met ywer skool. Hulle is gewoonlik nie deel van die strategiese gesprekke wat die skoolbestuur hou of betrokke by die digitale revolusie in die klaskamer nie. Maar hulle bydraes is kosbaar.

Hulle probeer nog voog wees elke oggend in die voogklas en bied koelte vir ’n magdom kinders.

Hulle rig sport en kultuur af en doen diens waar nodig. Min van hulle is egter in bestuursposte.

Hulle klas is hul sendingveld en dis waar hulle met toewyding hul liefde vir hul vak deel.

Hulle skarrel deur pouses en maak Tupperware-kos warm, merk in vakansies, werk nuwe opdragte en vraestelle uit, gee hul punte betyds in en maak seker hulle hersien hul werk voordat ’n kind gaan eksamen skryf. Hard werk is hul “default setting”.

Ek weet daar is mans en jonger onderwysers wat dit ook doen.

Maar ek weet die ruggraat van elke skool is hierdie tannies.

Met hul driekwartbroeke, gemaklike sandale, gestreepte bloese en klasse vol plakkate, oorgetrekte lêers, fotostaatpapierbokse met uitgeskeurde artikels in en êrens mooi woorde op ’n muur om ’n kind se hart aan te raak.

Slim skoolhoofde sal dit ’n voorkeursaak maak om hulle as mentors aan te wend in hul laaste paar jaar as onnies. Hulle selfs aanstel in beheerliggaamposte ná hul aftrede.

Want die dag as hulle loop, gaan ons dalk eers besef hoe diep die onderwys regtig in die moeilikheid is.

Tot dan is ons dankbaar vir die tannies. Met hul Tupperware-bakkies.

comment (1)

  • Reply

    August 10, 2017

    Hi Gielie, jy slaan die spyker op sy kop! Dankie vir al die Tannies met hul Tupperbakkies. Julle is kosbaarder as korale.

Leave me comment