Niks laat 'n mens meer verslae as die aankoms by 'n kar met 'n pap wiel nie. Vir 'n oomblik wil jy dit nie glo nie. Grotendeels omdat jy weet wat nou moet gebeur. Dis 'n oefening wat ontwerp is om jou diep nederig te hou.

As jong seuns was dit deel van ons inisiasie; meer werd as "Wat seuns moet weet" en minder tegnies as daai eerste soen:

Die omruil van 'n wiel.

Eers moet jy jou kattebak oopmaak en hoop alles is nog daar. Moersleutel, jack, spesiale megaftertjie om jou spaarwiel af te haal.

Dan begin die aanlê. Eers is jy hoopvol, jy gaan sommer die kar so hurk-hurk opjack.

Vinnig perel die sweet op jou voorkop. Dan besef jy die Mitchum het vandag strawwe kompetisie. En kort voor lank voel jy 'n koelte oor jou baieeee lae rug: maak nie saak hoe jy staan of wat jy aanhet nie, vinnig-vinnig is jy daai persoon wat mense afneem en van sê, crack is whack.

Om in daai oomblik te red wat te redde is is onnodig: dit is soos om 'n ballon oor die Voortrekkermonument te wil trek.

Dan gaan sit jy. Verligting. Maar nou moet jy jou invalshoek verander. Stadig maar seker lig die kar. Te stadig. Jy maak die moere los en probeer die wiel afkry. Nog nie hoog genoeg nie. Swaai nog 'n paar keer die moersleutel kloksgewys. Amper. En dan, na 'n laaste swaai kan jy die pap wiel afhaal.

Maar na jou gebed verhoor is en jou spaarwiel styf genoeg is, besef jy jy moet die kar verder oplig. Meet en pas, meet en pas. En dan, vasmaak. Jy maak seker elke moer is op sy plek en behoorlik vas. Jy bêre die pap wiel in die kattebak. Maak seker al die megafters is op hulle plek.

Dan staan jy terug en bekyk jou handewerk. Jy draai om en verwag 'n staande applous maar niemand sal eers weet hiervan nie.

Jy skop die wiel soos iemand wat karre kyk in Voortrekkerweg net om seker te maak als is reg.

Met die inklimslag, minder uitasem, broek herstel tot 'n beskaafde hoogte en hande nog vuil, sit jy vir 'n oomblik en wonder:

Dalk moet ek volgende keer liewers my versekering bel, hulle lewer die diens van wiele omruil. En met hulle toerustig gaan dit tjop-tjop.

Maar dan onthou jy daai kleintydse woorde: "'n Man moet 'n pap wiel kan omruil" en weet jy sal volgende keer die taak self weer aanpak.

En hoop niemand staan agter jou terwyl jy besig is daarmee nie;

niemand hoef so iets te aanskou nie

NS. Ek voel mens moet Vitality-punte verdien vir hierdie taak.

no comments

Leave me comment