Ons bure het nie geglo in "car insurance ". Dis nie dat daar altyd 'n kar op bakstene gestaan het nie; net dat hulle nie te veel gepla was oor 'n krap of 'n stamp nie. Deel van die versiering, het hulle geglo.

Natuurlik was dit my voorreg om soms saam met hulle huis toe te ry na skool. 'n Tiener geniet niks meer as om voor sy vriende in 'n gestampte kar in te klim nie.

Gelukkig vir my het die ouer dogter haar ma belet om naby die skool te stop. So gevolglik het ons 'n blok of wat verder die tannie gekry onder 'n boom, ver buite sig van die rugbykaptein of wieookal die ouer dogter se oog wou vang.

Toe dit tyd word vir my om self te besluit oor motorversekering het ek ewe skielik verstaan hoekom die bure so gevoel het: 'n Beginner-salaris het nie eintlik ruimte vir ekstra's nie. Ek het dit sterk oorweeg om maar my kanse te waag.

Totdat my ma my herinner het aan die Teologie-student-situasie.

Een Vrydagoggend, net voor die naweek sou begin, het ek reggestaan om te ry van Tukkies se Hoofkampus na die Groenkloofkampus.

Ek was klaar met klas vir die dag maar moes net 'n taak gaan ingee by die Opvoedkunde-dosent.

Ek was besig om uit te ry by die parkeerterrein maar moes stop; 'n student in 'n rolstoel wou oor die pad gaan. Ongelukkig het die student agter my nie die rolstoel gesien nie. En aanhou ry. Agter in my kar in.

Ek kon sien die student wou vloek. Skree. Vir my. Asook vir die rolstoel. Maar hy kon nie. Hy het Teologie geswot. En nie versekering gehad nie. Wat beteken hy sou moes instaan vir die werk aan my kar.

Ek was nie te veel gepla daaroor nie.

Maar my taak was agter in my kattebak. En ek kon op geen manier my kattebak oopmaak nie. En die taak moes in voor 12:00.

Ek het geweet dit klink soos 'n storie wat 'n student sou uitdink. En het daarom die Teologie-student gedwing om 'n brief te skryf vir my dosent.

Want, het ek tóé geglo, 'n Teologie-student se woord sal seker vir iets tel.

So ek het toe die versekering uitgeneem. Mens speel nie met 'n ligte stamp of stoot nie. Ek wonder of die bure se dogter toe haar kaptein gekry het.

no comments

Leave me comment