Deur Gielie Hoffmann

Ons het vir Nelson as ’n vry man uit die tronk sien loop. En sien sterf. Vir Jonty sien duik, Joel sien skop en Hansie sien huil. Ons eerste sokkerspeler se naam was Doctor.

Ons onthou sementtafels onder bloekombome en drink nou ’n flat white. Ons het KTV met Candice gekyk en Kideo met Natasha. Maar was jare laas op SABC2.

Ons het ons taaltande gesny op Bophuthatswana, Madikizela en Boiphatong. Leer tel met die Boys High-1 en die Waterkloof-4.

Ons verkies nog vetkoek bo bruschetta, maar sukkel nou met polonie en geblikte tuna.

Ons het straatname sien verander en meeste van ons weet nie wie die oues was óf die nuwes is nie.

Ons onthou landlyne, faksmasjiene en selfone met aerials. Maar hang nou wireless uit saam met mense wat ver is en vermy oogkontak met mense wat naby is.

Ons woon tweede troues by en wonder oor wat ’n mens koop vir iemand wat als gehad het en op ’n manier als verloor het.

Ons google “melkkosresep” as die winter se tande te skerp begin byt, al was ons nooit in ’n koshuis nie. Ons onthou vaagweg ons ouma was in kaneel.

Ons Oppikoppi en Strab en doen al die goed waaraan ons nie in ons 20’s ’n behoefte gehad het nie. En dan glo ons in die wonders van elektroliete en wet wipes.

Ons begroot vir Dis-Chem se maandelikse mandjie en hoop daai aanvullings werk al die siektes tee waarteen vrouetydskrifte ons waarsku. Ons Vitality-ouderdom reflekteer nie hierdie pogings nie.

Ons bant Maandagoggende tot skuins ná 10:00 en swipe ons Virgin Active-kaarte, soms om te oefen, soms vir smoothies.

Ons sien die jare aanstap en raak gemaklik daarmee dat ons heel moontlik kinderloos deur die lewe sal gaan. En tog krimp ons ineen wanneer ons daai poskaartgesinne sien verbystap.

Ons aanvaar dat Taylor Swift se musiek skielik vir ons mooi geword het en dat ons selfs ’n Bieber-liedjie of twee se name ken. Maar ons trek die streep by Nicki Minaj.

Ons sien ons ouers word ouer en is nog nie reg daarvoor om hulle te verloor nie, al het ons self al grys hare wat onverwags kop uitsteek.

Ons sien daai meisie van skool op Facebook en wonder of sy ooit êrens in ons rigting gekyk het. Was sy dalk jou Sally Williams-oomblik wat weggeraak het?

Ons skrik nie meer as ons ge-oom word nie, maar skrik nog vir die ooms van ons grootwordjare.

Ons hou wisselkoerse dop en hou ons politieke partye verantwoordbaar. Nooit weer wil ons lewe in ’n wêreld waar een party die oormag het nie.

Ons sing net so hard aan die Xhosa-gedeeltes van die volkslied as aan die Afrikaanse gedeeltes. Maar sal albei offer as iemand vra.

Ons huil as Caster en Wayde oor die wenstreep hardloop en verlang na daardie 1995-ideaal, maar ons weet nou dat die Castle-advertensies nooit werklik was nie.

Ons dink stilletjies dis tyd dat die Engelse ook pak slae kry. Versoening is ’n feeling, drifting away.

Die meeste van die tyd is ons in die verkeer of op Facebook of besig om belasting te betaal.

Ons soek raad op webblaaie en rigting by wysgere, ons skrik vir sinodes wat van liefde vergeet het.

Sommige van ons het steeds die jeugsangbundels, die Liedboek en die Bybel, maar ons vind ons geloof in die onbeantwoorde vrae op iTunes.

comments (5)

  • Reply

    July 22, 2017

    Dit maak my skielik hartseer om te besef dat dit amper ‘n generasie jonger as my kinders is, waaroor hier so presies reg geskryf word.

    Die hartseer deel is die besef dat selfs ons nog steeds nie al die antwoorde het nie. Ons rigtings en verhoudings neuk steeds skuins.

  • Reply

    July 24, 2017

    Ekt nou sooo lekker gelag! Eks 32 en het gistraand n melkkos resep gegoogle. Hehehe

  • Reply

    July 25, 2017

    Ek weet nie wie jy is nie, maar hierdie is briljant

  • Reply

    July 26, 2017

    Ek sing net die stem gedeelte, maar die res is redelik akkuraat. Maar wie is Bieber lol

  • Reply

    July 27, 2017

    Uitstekend!

Leave me comment