Deur Gielie Hoffmann

Niemand sal daai oomblik vergeet toe jou ma jou gevra het om ’n vriend van jou op Facebook te wees nie. Dit bly sekerlik een van die grootste besluite in jou lewe: Laat jy haar toe binne jou digitale lewe of gee jy haar die koue skouer?
Ek het ’n vriendin wat nie vriende met haar ma op Facebook is nie: Die tannie weet sy moenie vra nie en die dogter weet sy sal nie aanvaar nie.
Ek selwers het al my ma gedreig met ’n digitale time-out. En een keer ontvriend. En weer bevriend. Daai kategeseklasse het tog my gewete beïnvloed.
Omdat ons voortdurend ons voete moet vind in ’n wêreld sonder reëls, dink ek dit sal goed wees om so ’n paar riglyne vir jou ouers neer te lê:
1. Moet asseblief nie verplig voel om elke liewe iets wat ek opsit, te like nie. Ek weet Ma hou van my. Ek is lank genoeg geborsvoed en het Ma op speed dial; ’n like gaan my nie meer geliefd laat voel nie. Bak liewers vir my ’n melktert.
2. Moet asseblief nie foto’s deel wat my kan laat bloos nie. Behalwe dat my toekomstige baas dit eendag gaan sien, spandeer ek baie ure daaraan om my profiel só aanmekaar te sit dat elke foto my op my beste laat lyk. Ek filter, crop en sny soos ’n besetene. Een misstap aan Ma se kant en mense kan my dalk sien vir wie ek is.
3. Elke keer as Ma ietsie “moois” deel – ’n versie, katjie, iets met kosmos – sommer net omdat ma lus is, kry ’n boer in die Noord-Wes minder reën. Soms is ietsie moois op sy veiligste in jou eie hart.
4. Ek teken nie petisies nie. Ek speel ook nie Candy Crush nie. Ek like nie iets omdat die liewe Here sal intree as daar genoeg likes is nie. Hy is besig, ek dink nie Hy sit rond en wag vir daai laaste vyf likes voordat Hy iemand help met ’n nuwe hart nie.
5. Ek soek niks van Steve Hofmeyr op my timeline nie. Níks nie.
6. Moet asseblief nie histeries raak oor iets wat drie jaar gelede reeds gepubliseer is nie. Maak seker oor die feite. Suig ’n Rescue Remedy, bel tannie Bets, maar ons gil nie op Facebook nie.
7. As ma se skoolpel van 40 jaar gelede rassistiese of seksistiese kommentaar op ma se status updates maak, vee dit uit. My liberale vriende gaan dink Ma stem daarmee saam. Ek het ’n reputasie om te beskerm.
8. Minder is meer. Regtig. As ma tien foto’s wil deel, kies drie. As ma elke twee ure ’n nuwe status wil opsit, praat liewers met Pa.
9. Lig ma se selfie game. Oefen. Deel dit eers op WhatsApp met ons sodat ons dit kan goedkeur.
10. Geniet Facebook. Julle 50-plussers het nou die buurt oorgevat (en ons sidder).
* Nie al die reëls is van toepassing op my eie ma nie.

comments (4)

  • Reply

    July 26, 2017

    vanflippentasties

  • Reply

    July 27, 2017

    Gielie dit is briljant! Ek het so lekker gelag en dadellik met my “fifty plus” vriendinne geshare … op WhatsApp! Doen so voort!

    • Reply

      July 29, 2017

      Dankie vir goeie raad Gielie – so leer ek nou as n “fifty plus” van jou, my voormalige leerling. Dankie vir die mooi humor!

  • Reply

    August 5, 2017

    Ek het dadelik begin om (te probeer) om my kinders te ignoreer. Hehe

Leave me comment